08 April 2011

Klippies in my Skoen

Ons almal het dinge wat ons pla, hetsy in 'n meerdere of mindere mate. Ons almal doen ook dinge wat ander mense pla. Ons sê egter nie altyd wat ons pla nie en aanvaar sekere dinge maar gelate, seker omdat ons niks daaraan kan doen nie. Ek is egter van mening dat 'n mens moet sê wat jou pla. Daarom wil ek vanoggend 'n lysie maak van wat my pla na aanleiding van wat gister gebeur toe ek terug gery het huistoe van die werk af. Party mense

04 April 2011

Die vorming van Menings

Elke mens is geregtig op sy eie opinies. As jou opinies egter nie strook met die van 'n ander nie, is hulle nie noodwendig verkeerd en jy is reg nie. Alles moet vanuit 'n perspektief gesien word.
Opinies kan ook verander soos wat jy van werk verander, verhuis, nuwe vriende ontmoet, slegte dag op kantoor gehad het, of die sportspan wat jy ondersteun (of nie ondersteun nie) gewen of verloor het, en nog 'n legio ander invloede.
Mens kan dus ook sê dat jou opinie omtrent 'n saak gewysig kan word of verander soos wat jou gemoedstoestand verander. Dit klink nou vreeslik filosofies, maar oordink dit maar gerus.
Ek het byvoorbeeld 'n vooropgestelde idee (of dan 'n eie opinie) gehad omtrent 'n sekere individu, totdat ek die naweek saam met hom gholf gespeel het, en nou het ek 'n heeltemal ander opinie gevorm van die persoon. Ek dink nou nie meer die ou is so 'n vreeslike windgat nie.

Ander mense se opinies beinvloed ook jou eie en somtyds deel jy so 'n opinie slegs omdat jy glo die ander persoon weet meer van 'n saak as jy. Die ergste is wanneer jy 'n ander se opinie deel omdat hy meer geld of aansien het as jyself. Ek is van mening dat jy jouself dan iewers langs die pad verloor het. Die groot geheim is dus om te luister na die opinie van ander maar dan volgens jou eie oortuiging, en nie as gevolg van dom astrantheid nie, jou eie opinie oor 'n saak te vorm.

Hier volg'n paar van my eie menings (opinies) :

Die Natal Sharks is by verre die beste span.
Blou is vir my 'n mooi kleur, maar beslis nie vir 'n rugbytrui nie.
Graeme Smith is die swakste krieketkaptein van alle tye.
Oor politiek sal ek my nie te veel uitlaat nie want ek glo dat alle politici net vir hulle eie sak sorg en nie 'n saak het met ons arme drommels nie.
Ek het nog nooit 'n beter motor gery as die een wat ek tans besit nie.
Goedkoop wyn smaak dieselfde as daardie duur R150-00 per bottel wyn.
Semi soet wyn smaak sleg.
As ek kon ophou rook kan enige iemand anders dit ook doen.
Jy speel nie noodwendig beter gholf met duur balle nie.
Robbie Wessels kan nie sing om sy lewe te red nie.
Nataniël is arrogant en glo sy opinie is al wat tel.

So kan 'n mens aangaan. Dit is ook gevaarlik om jou opinie te sien as 'n feit. Ek sal op 'n ander geleentheid feite aanspreek. Kom ons hou dit eers by opinies.
Het die woorde - mening, idee, sienswyse of opinie noodwendig dieselfde betekenis ?
Sê vir my wat is jou siening oor die gewigtige saak.