08 April 2011

Klippies in my Skoen

Ons almal het dinge wat ons pla, hetsy in 'n meerdere of mindere mate. Ons almal doen ook dinge wat ander mense pla. Ons sê egter nie altyd wat ons pla nie en aanvaar sekere dinge maar gelate, seker omdat ons niks daaraan kan doen nie. Ek is egter van mening dat 'n mens moet sê wat jou pla. Daarom wil ek vanoggend 'n lysie maak van wat my pla na aanleiding van wat gister gebeur toe ek terug gery het huistoe van die werk af. Party mense
kan mos nie agter 'n ander een ry nie maar moet altyd voor wees ongeag die spoed waarteen jy of hy ry.
As ek in hierdie lysie van "klippies in my skoen" verwys na die manlike spesie sluit dit noodwendig die vroulike geslag ook in.

Ek het 'n kleintjie dood aan:
  • iemand wat indruk waar mense in 'n tou staan
  • taxis of ander voertuie wat in die noodbaan jaag om voor in te druk
  • wanneer daar 'n voertuig langs die pad staan, hetsy as gevolg van 'n ongeluk, onklaarheid of deur 'n verkeersman afgetrek is, feitlik tot stilstand kom en verkeer agter hom laat ophoop net omdat hy sy nuuskierigheid nie kan of wil bedwing nie
  • mense wat laat opdaag vir afsprake sonder 'n geldige rede
  • iemand wat niks van my vakgebied weet nie maar baie onsin daaroor kan sê of skryf
  • iemand wat in 'n geslskap altyd mooier, slimmer, sterker of ryker is of kinders het wat so is
  • wanneer jy as ouer iets teenoor 'n onderwyser gesê het en jou kinders word benadeel
  • omdat die pa 'n bees geskenk het vir die skoolkermis speel die kind in die eerstespan of nog erger word die kind hoofseun/meisie
  • nie kan erken wanneer jy 'n fout gemaak het nie hetsy by die werk of andersins
  • grafiti op mure of in toilette skryf of dit nou "I love Jesus" of "Satan rules" is, maak vir my nie saak nie, dieselfde daad is gepleeg naamlik die ontsiering van 'n gebou of openbare eiendom
  • mense wat die verkeerde kleredrag aantrek na 'n geleentheid toe net om 'n statement te maak - byvoorbeeld opdaag by 'n formele sakekamer dinee met jeans, t-hemp en tekkies
  • iemand wat verneuk (reëls doelbewus oortree) op die gholfbaan
  • iemand wat die verkeerde nommer geskakel het, wanneer hy dit agterkom, die foon neersit en nie kan sê "jammer verkeerde nommer" nie
  • mansmense wat in die openbaar langs die pad urineer
  • iemand wat sy ruit oopdraai en iets uitgooi, soos 'n sigaretstompie leë koeldrankblik of iets dergeliks
  • erger nog is iemand wat sy ruit oopdraai en spuug sonder om in ag te neem dat dit die voertuig agter hom kan tref
  • in vergaderings sy eie stem wil hoor wanneer die punt reeds ge-opper en of opgelos is, selfs al strook dit met sy sienswyse
  • ander mense nie die geleentheid gee om ook iets te sê in 'n geselskap nie
  • rommel strooi in sommige gevalle langs die vuilgoeddrom
  • ander mense se taal en kultuur afkraak net omdat hy "kan"
  • politiek in elke gesprek inbring al weet hy daar is persone met ander oortuigings teenwoordig
  • mense wat sê "hoe kan jy dit eet (of drink), dit is sleg" wanneer die woorde eintlik moet wees "ek eet of drink dit nie want ek hou nie van die smaak nie"
  • rook in my gesig blaas hetsy moedswillig of andersins (ek weet ek sit in sy geselskap maar hy kan ook meer bedagsaam wees want hy sit ook in my geselskap)

Daar is nog 'n legio ander "klippies" wat ek kan opnoem, maar ek volstaan voorlopig hiermee. Dit is nou nie te sê dat ek die hoogheilige is wat niks verkeerd doen nie, of nog erger wat nie hierdie "klippies" al veroorsaak het by ander mense nie, maar ek wou dit nou eenmaal sê. Almal van ons het maar sy swak gewoontes, solank ons dit self kan raaksien en darem somtyds om verskoning vra en poog om dit nie weer te doen nie.

Dit help egter ook nie om doelbewus iets "verkeerd" te sê of doen, en dan onmiddelik gereed te wees met "sorry" nie. Ek het al hoeveelkeer vir iemand gesê "sorry of jammer maak nie altyd reg wat jy verkeerd gedoen het nie".

Ek wil afsluit met 'n gesegde wat my ma gehad het "Sit 'n wag voor jou mond my kind".

1 comment:

  1. Ek voel as 'n ou stilbly oor die goed wat jou pla, versondig jy net jou eie siel. Want as jy nie 'n ander laat weet nie "en dit maar gelate aanvaar", raak jy elke keer bietjie vir bietjie meer ontsteld in jou binneste en die ander persoon en nie die vaagste benul nie.

    Natuurlik is dit nie altyd moontlik om motoriste uit hulle karre te pluk en te laat verstaan, dit wat hulle nou gedoen het was onbedagsaam of onwetlik nie, maar daar waar 'n mens wel jou mond kan oopmaak, moet jy dit doen. Taktvol, bygesê. Beskerm jou binneste ;)

    ReplyDelete